Nikodemus Leiers  

Ons ken almal die storie in Johannes 3, van Nikodemus wat Jesus onder die dekmantel van die nag besoek het. Jesus het toe met hom gepraat oor die wedergeboorte en die bekende woorde van Johannes 3:16 gespreek.

Dit is interessant dat daar in die evangelie van Johannes drie keer van Nikodemus melding gemaak word. Behalwe vir hierdie bekende gedeelte in Johannes 3, word daar ook na hom verwys in hoofstukke 7 en 19. Hy is die enigste man in die Bybel wat hierdie naam het en aangesien hy nie ‘n algemene naam soos Maria of Jakobus gehad het nie, kan daar min verwarring wees oor wie hy nou eintlik was. Elke keer egter wanneer Johannes na hom verwys, verwys hy na Nikodemus as “hy wat in die nag na Hom gegaan het” (sien Ou Afrikaanse vertaling). Dit blyk dus dat die feit dat Hy Jesus in die nag besoek het, hom vir ewig geïdentifiseer het.

Dan was daar ook “Josef van Arimatea, wat 'n dissipel van Jesus was maar in die geheim” (Joh 19:38). Net soos Nikodemus was Josef ‘n Joodse geestelike leier wat in Jesus geglo het. Hy het hom egter nie openlik met Jesus geïdentifiseer en sy verbintenis met die Seun van God verklaar nie.

Die rede vir die geheimhouding was voor die hand liggend. Dit sou nie hulle beeld, populariteit of posisie in die samelewing bevorder het as hulle openlik met Jesus geïdentifiseer sou word nie. Gevolglik was hulle optrede niks anders as die optrede van Petrus nie. Hy was nog ‘n leier wat Jesus verloën het en op ‘n baie kritieke oomblik wou hy nie sy verbintenis met sy Leermeester verklaar nie.

Die Jode van Jesus se tyd het wegbeweeg van die ware geloof. Hulle het eie tradisies en instellings nagevolg eerder as om aan die Woord van God gehoorsaam te wees. Netso is daar vandag baie denominasies en kerke wat reeds die ware geloof agter gelaat het, of besig is om dit te doen. Hulle vervang dit met ‘n geloof van hulle eie tradisies en gebruike. En net soos in Jesus se dae is daar steeds geestelike leiers in die kerke wat presies soos Nikodemus, Josef en Petrus is. Hulle weet die Waarheid, maar hulle wil nie praat, uit vrees vir wat ander mag sê, of omdat hulle bang is dat hulle hulle status, posisie of inkomste sal verloor.

Hierdie moderne Nikodemusse sal onder die dekmantel van die duisternis ander mense nader wat openlik vir die Waarheid staan. Net soos Nikodemus herken, erken en ondersteun hulle die Waarheid. Maar uit vrees vir die gevolge sal hulle sal nie openlik standpunt inneem vir die Waarheid – en teen die dwaling – nie. Feitlik elke gemeente en denominasie het mense soos hierdie wat wegkruip in die veiligheid van die skares, terwyl die Waarheid in vandag se kerke ontken, verkoop en gekruisig word. Alhoewel hulle die Waarheid ken en weet, verkies hulle om geheime agente te wees wat die inligting aan diegene voer wat die stryd stry. Self verkies hulle om in die nag te werk, onder die dekmantel van die duisternis.

Ons is bewus daarvan dat Jesus met Nikodemus gepraat het oor die wedergeboorte, maar het ons al ooit na die hele boodskap van Jesus aan Nikodemus gekyk? Jesus sluit sy opmerkings teenoor hierdie leier af met die woorde:

En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie. Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.” (Joh 3:19-21)

Moenie dink dat hierdie woorde in isolasie gespreek is nie. Hulle word direk verbind met die openings woorde van die gedeelte wat vertel dat Nikodemus in die nag na Jesus gekom het. Jesus het vir Nikodemus vertel dat hy eerder die duisternis as die lig liefhet. Ons pas hierdie vers baie gemaklik toe op die rowers en huisbrekers wat gedurende die nag opereer, maar Jesus het dit nie op sondaars van toepassing gemaak nie: Hy het dit gerig aan die godsdienstige man wat Jesus erken het maar verkies het om dit nie te openbaar nie!

My vriend, as jy kan sien dat jou kerk of denominasie besig is om die verkeerde koers in te slaan en dat hulle reeds hulle eie godsdiens, wat nie ooreenkomstig God se Woord is nie, geskep het (of begin skep het) – dan is dit tyd dat jy standpunt inneem. As jy stilbly omdat jy “vir die Jode bang is”, dan sê Jesus, is jy in die duisternis. As jy in die Waarheid is, dan moet jy na die lig kom, jou lig laat skyn en jouself uitspreek ten gunste van die Waarheid.

Natuurlik sal daar reperkussies wees. Ja, hulle gaan jou haat, jou reputasie vernietig, jou uit jou posisie onthef en jou uitgooi asof jy ‘n stuk afval is. Ja, jy mag dalk jou vriende verloor, miskien selfs jou salaris, gesondheid en self-respek. Maar het hulle nie dieselfde aan Jesus gedoen nie en dwarsdeur die hele Bybel, ook aan al die manne van God nie? En het Jesus nie self ook gesê nie:

Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel. Geseënd is julle wanneer die mense julle ter wille van My beledig en vervolg en valslik al wat sleg is van julle sê. Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so vervolg. Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis” (Mat 5:10-15). Let weereens op dat ons die sout en lig moet wees, nie net in die wêreld nie maar veral in die kerk. Let ook op na die verband tussen om lig te wees en vervolging.

Jy kan vir ‘n rukkie wegkruip, maar die tyd sal kom wat dit van jou vereis sal word om standpunt in te neem. Nikodemus en Josef was “ondergronds” vir ‘n paar jaar, maar die tyd het gekom waar hulle hulle ware kleure moes wys. Dit was Josef wat Pilatus se toorn trotseer het om vir die gebroke liggaam van Jesus te gaan vra. Dit was Josef en Nikodemus wat Jesus in Josef se graf gaan begrawe het. Maar in ‘n sekere sin was dit reeds te laat. Jesus was dood. Baie van die moderne Nikodemusse word wakker wanneer dit te laat is. Wanneer die Waarheid reeds dood is en dit nog net nodig is om die laaste reste van die Waarheid te gaan begrawe.

Loof die Here! Die Waarheid het opgestaan en kan nooit vernietig word nie. Moet egter nie wag tot dit te laat is voordat jy standpunt inneem langs die Seun van God nie. Moses het onder sy Egiptiese klere weggekruip maar die dag het gekom waar hy “verkies [het] om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om die kortstondige genieting van sonde te hê. Die smaad ter wille van die Christus het hy 'n groter rykdom geag as die skatte van Egipte, omdat hy na die beloning uitgesien het. Omdat hy geglo het, het hy Egipte verlaat sonder dat hy vir die woede van die koning bang was. Hy het volhard soos iemand wat die onsienlike God sien” (Heb 11:25-27).

Toe al die Israeliete hulle tot afgode gewend het, was dit Moses wat uitgeroep het “Wie vir die Here is, kom hier na my toe!” (Eks 32:26). Die gevolge toe die seuns van Levi op hierdie oproep gereageer het, was nie mooi nie, maar God het aan hulle standpunt erkenning gegee en Hy sal dit ook vir jou waagmoed doen. Maar jy sal moet kies en jy sal dit vandag moet doen.